Langebaan couple survive two-hour robbery horror
A Langebaan couple was tied up and assaulted in their home in the early hours of Saturday 5th October 2019, with their assailants ransacking their house and escaping from the scene in the family car.
Our Story
’n Mengelmoes van angs, woede en hartseer.
Beeldmateriaal van ’n kring-televisiekamera van een van die vermeende rowers met ’n petrolkannetjie in die hand nadat die Swift-egpaar se geld by ’n OTM by hierdie vulstasie in Atlantis onttrek is.
’n Mengelmoes van angs, woede en hartseer.
Só lyk die emosionele toestand van ’n plaaslike liefdadigheidswerker nadat sy en haar man voorverlede naweek deur gewapende rowers in hul huis in Langebaan aangehou en aangerand is.
Die nagmerrie
Volgens Maureen was die rowers met ’n skroewedraaier en ander gereedskap gewapen.
“Hulle het my kussingslope stukkend geskeur en die stukke lap gebruik om ons hande agter ons rûe vas te maak. Hulle het ook ons voete vasgebind.”
Sy vertel dat die mans hulle op hul mae op ’n bank gemaak lê het. Maureen is herhaaldelik in die gesig geskop en Tommy is met ’n skroewedraaier in die gesig en op sy kop gesteek.
“Ek het voorheen rekonstruktiewe chirurgie gekry en het ’n prostese in my gesig waar my een wangbeen moet wees.
“Ek het gedink hulle gaan my gesig heeltemal inmekaar skop,” erken sy. Verder is haar tande en voorste brug heeltemal los geskop. “Die tandarts kon dit tydelik vir my vasmaak, maar dit (die brug) sal heeltemal oorgedoen moet word.”
Opgestopte sokkies is in Maureen en Tommy se monde gedruk.
“Verkeerde huis geteiken”
Die rowers het glo die huis omgedolwe op soek na die Swift-egpaar se waardevolle besittings. Volgens Maureen was die mans kwaad toe hulle hoor daar is nie ’n kluis in die huis nie.
“Ons het afgeskaal toe ons drie jaar gelede van Gauteng na Langebaan verhuis het. Ons het net ons gebruiksgoed in die huis,” sê sy. En die rowers was duidelik ook vies hieroor.
Die een rower het glo selfs aan Maureen in Engels gesê, “ek kan nie glo ons het die verkeerde f*k*n huis geteiken nie”.
Volgens Maureen het net een van die mans gepraat. Die ander drie het nooit iets gesê nie. Sy vertel dat die prater selfs gedreig het om hul hondjie se keel af te sny as hulle nie die PIN-nommers van hul bankkaarte vir hom gee nie.
“Een van hulle maak toe sulke tjank-geluidjies asof dit nou moes klink asof hulle besig is om ons hondjie seer te maak. Daarna het hulle die water in ons ketel, wat gelukkig al afgekoel het, oor my rug gegooi. Hulle wou hê ek moes dink dis die hond se bloed, maar ek het gou agtergekom dis net water, want dit was yskoud.”
We need your Help
“Ons het gedink ons gaan nie oorleef nie”
“Ek het met my vasgebinde hande heeltyd my top wat oor my rug opgeskuif het, probeer aftrek, want ek was doodbenoud hulle sou my dalk verkrag.”
Sy erken dat sy ook op ’n tydstip gedink het dat sy en Tommy nie die nag gaan oorleef nie.” “Tommy se hande was so styf vasge bind en dood dat hy oortuig was hy gaan sy hande verloor.”
Die rowers het al die gesteelde goedere in die paartjie se motor gelaai en daarmee gevlug. Eers toe Maureen en Tommy baie seker was die rowers is weg, het hulle met groot moeite die deur oopgesluit en Tommy het met sy vasgebinde voete buitentoe gehop om alarm te maak.
Tommy junior, wat nagskof by ’n plaaslike kroeg gewerk het, het op daardie oomblik voor die huis stilgehou en dadelik sy ouers te hulp gesnel om hul hande en voete los te sny terwyl die geskokte bure wat intussen wakker geword het, uit hulle huise gekom het.
Die Swifts se motor is later verlate langs die pad naby ArcelorMittal Saldanha gevind. Die geld in hulle
bankrekeninge is omstreeks 05:00 deur die rowers by ’n outomatiese tellermasjien in Atlantis getrek.
Geen versekering, spanning in die gesin, trauma.
Die boosdoeners het sowat R55 000 se goed gebuit en Maureen sê die inhoud van hulle huis is nie verseker nie, want hulle kan as afgetredenes dit nie bekostig nie.
“Ons het gedink ons trek Langebaan toe vir ’n veiliger en eenvoudiger lewe,” sê sy.
Maureen is betrokke by die Langebaan-buurtwag, Team Langebaan en werk as vrywilliger vir die Feed the Need-sopkombuis wat weekliks aan honderde hulpbehoewende Lange baan-inwoners ’n bord kos verskaf.
“Ek gee al my tyd aan ander mense en ek glo in my hart die rowers kom uit die Weskus. Só, ek is kwaad.
“Maar baie mense ken ons deur die liefdadigheidswerk wat ons doen en ek glo iemand gaan uitpraat.”
Sy sê sy is dankbaar oor elke opregte briefie van medelye wat Langebaan Primêr se leerders aan haar en Tommy geskryf het.
“Ons al drie het ’n emosionele knou weg,” het sy met verwysing na onderliggende spanning en twis in die huis gesê. Maureen sê sy is ’n geleentheid vir berading aangebied, maar dat haar “kop nog nie reg is” daarvoor nie. Tog weet sy dis noodsaaklik en sy moet uiteindelik die hulp aanvaar.
Volgens kapt. Christo de Wet, bevelvoerder van Langebaan-polisie is niemand nog in verband met die huisroof in hegtenis geneem nie, maar verskeie wenke is ontvang wat tans opgevolg word.
Get in Touch. Get Involved.
Everybit of assistance will greatly be appreciated.